Moenie jouself uitverkoop nie!

WWIE ken nie daardie lekker gevoel as jy ’n mooi rok of broek teen halfprys gekoop het nie? Of jouself met baie duur velsorgprodukte bederf het, omdat daar ’n geskenkpakkie met vyf miniprodukte op die koop toe was nie? Boonop voel jy dit nie dadelik aan jou sak nie, want sit dit sommer op jou klererekening wat rentevry oor ses maande afbetaal word.

Jy keer triomfantlik huis toe en dink: “Wow!, ek het vandag R400 gespaar op daardie swart nommertjie wat ek andersins nooit sou gekoop het nie!’’ Jy kan nie wag om te gaan stort en duur room van amper R700 aan jou gesig te sit nie. Jy sou dit nooit kon bekostig het as daar nie ’n promosie was nie.

Die geskenkies wat in ’n pragtige sakkie verpak is, sluit ’n klein maskara, vogroompie, gesigwasmiddel en handroom in – volgens die konsultant ter waarde van R800! In jou kop het jy ’n slag geslaan. Jy voel soos ’n wenner, want jy het altesaam R1 200 ”gespaar”.

Het jy regtig? Nee. As hierdiejou patroon van koop is waar jy deur uitverkopings verlei word om impulsief goed te koop wat jy nie kan bekostig of nodig het nie, het die tyd aangebreek dat jy baie ernstig na jou koopgewoontes kyk en opnuut besin oor die konsep van “spaar”.

Selfs daardie nederige R400 per maand sal binne 24 maande tot R10 109 (rentekoers van 5.35%) groei of tot R27 447 as dit vir vyf jaar by ’n bank gespaar word.

Is jy dalk so besig om daagliks geld op kos en klere te “bespaar” dat jy aan die einde van die maand geen geld oor het om werklik te spaar nie? Leef jy net vir nou en is daar nooit iets oor om voorsiening vir die dag van môre te maak nie? Teen die tyd dat jou kinders moet gaan studeer,het al die goed wat jy op afslag gekoop het, geen voorsiening vir hul klasgeld gemaak nie. Om nie te praat van wanneer jy eendag aftree nie. Dan al die mooiste meubels, klere of kar nie jou bas red nie.Tree vandag op. Gaan kyk in jou kas hoeveel klere en skoene jy teen groot afslag gekoop het, maar amper nooit dra nie. Gaan kyk hoeveel linne of tafeldoeke jy “goedkoop” gekry het, maar skaars gebruik. Kyk in die spieël en kan jy eerlik sê daardie peperduur room het jou mooier en met minder plooie maak lyk as die normale een wat jy nog altyd vantevore gebruik het?

Sê maar jy het oor ’n tydperk van ses maande sowat R6 000 “gespaar” op artikels wat jou rondom R9 000 gekos het, maar wat jy nie noodwendig meer as een of twee keer, indien ooit gebruik het nie, kan jy eerlik glo jy het iets gewen? Gaan daardie onoordeelkundige en ondeurdagte kopies jou lewe of toekoms verbeter?

Dit neem skaars ’n genie om uit werk dat jy in so geval ’n volle R9 000 gemors het en as dit jou patroon is, jy die volgende ses maande dieselfde gaan doen. Oor ’n tydperk van vyf jaar kan jy tot R90 000 op hierdie manier in die water te gooi. ’n Allemintige bedrag wat vir jou ’n stewige neseier vir toekoms kon geskep het. En dít nadat jy vas geglo het jy verdien nie genoeg om geld te spaar nie?

Die meeste mense is prooi van die slim winkels wat hulle met die slap riem van “uitverkoping” en daardie woordjie “spaar” wat oral op biljette jou lok om geld uit te gee wat jy nie het nie. Ook diegene met ’n kleiner inkomste wat dalk net so R400 per maand kastig “bespaar”, maar dit eintlik vermors. Selfs daardie nederige R400 per maand sal binne 24 maande tot R10 109 (rentekoers van 5.35%) groei of tot R27 447 as dit vir vyf jaar by ’n bank gespaar word.

Dit bewys niemand met ’n redelike inkomste is te arm om te spaar nie en ekonome beveel aan mense moet minstens 15 tot 20% van hul salaris spaar as hulle nie op hul oudag in die oë van ander vir ’n heenkome wil kyk nie.

Gaan spreek ’n finansiële adviseur oor hoe jou geld nou ingespan kan word om vir jou te werk.

’n Langtermynspaarplan

’n Langtermynspaarplan is volgens Dr Anton Hay, bemarkingsdirekteur by Escponent Financial Services, ’n absolute vereiste en al sukkel mense finansieel, moet hulle waak teen skuld en elke maand ietsie wegsit, al is dit hoe klein. Verder moet hulle daarteen waak om nie later spaarplanne te kanselleer of af te skaal om aan korttermyn behoeftes te voldoen nie.

As jy eers sover gekom het om ’n neseiertjie op te bou, kan jy jou sukses vermenigvuldig, want vir jou aftrede, sê kenners, moet jy daarna mik om minstens ’n nominale opbrengs van 9% te kry.

Gaan spreek ’n finansiële adviseur oor hoe jou geld nou ingespan kan word om vir jou te werk. Daar is ’n rits produkte op die mark waar jy nog meer as net in die bank gaan verdien en jou keuse sal gebaseer wees om die beleggingstermyn en die risiko wat jy in staat is om te neem. Die veiligste sal ’n balans wees waar groeiende bates ingesluit is om jou teen inflasie te beskerm. En dan dat jou belegging in verskillende finansiële produkte versprei word om risiko tot ’n minimum te beperk.

Saamgestelde groei is deur Albert Einstein as die mees dinamiese syferkrag en selfs die agtste wonder van die wêreld bestempel. Klein bedrae of beleggings met die regte samestelling kan tot ongelooflike waardes groei. Wees net daarop bedag dat die aanvanklike mag daarvan nie in die eerste jare waarneembaar is nie. Dis eers in die later jare dat die dramatiese groei duidelik gesien word.

Een so ’n moontlikheid is die voorkeuraandele wat deur Ecsponent aangebied word. As jy elke maand vir twaalf maande R850 in ’n bankrekening spaar dan het jy na twaalf maande R10 454 (koers van 5.35%) of as jy maandeliks R1 700 kan afknyp het jy binne ses maande R10 314 (koers 5.35%). In beide gevalle het jy die minimum bedrag van R10 000 om ’n belegging te maak. By Ecsponent sal die R10 000 na vyf jaar tot R17 000 groei en as dit daarna vir ’n verdere 20 jaar belê word, sal dit R141 700 werd wees. Kies fyn wie jou belegging hanteer.

Dis verkieslik ’n maatskappy wat op die aandelebeurs genoteer is en aan vaste standaarde verbind is. Dan moet jy ook let op beleggingskoste wat gehef word, want selfs ’n “skrale” 2% per jaar kan jou neseier benadeel. Nog iets wat belangrik is, is dat jou geld oor ’n diverse spektrum versprei word om risiko tot die minimum te beperk.

Die geheim tot welvaart is om van jou skuld ontslae te raak en so gou moontlik te begin spaar en belê. Vir elke vyf jaar wat jy uitstel, moet jy drie keer meer insit as iemand wat vroeë begin het om uiteindelik by dieselfde bedrag uit te kom. Elke jaar gemors is een jaar minder van saamgestelde groei.

As jy weer deur ’n winkelsentrum loop en al daardie vlaggies van uitverkopings sien wapper, dink net hoe slim jy is om te koop wat jy nodig het en die res van jou geld te laat groei om ’n sorgvrye toekoms vir jou en jou gesin te verseker… pleks van ’n groot versameling skoene, klere, sepe en rome, oortollige linne en goetertjies wat onbruikbaar raak en later net in jou pad is en weggegooi moet word!